Ouma op haar Lazy-Boy stoel

Created by AnZ 7 years ago
Ouma is op 9 Augustus 1994, 25 voor 5 op haar stoel oorlede. Terwyl sy "Days of our Lives" gekyk het. Ek sweer Sammy Brady het vir haar 'n hartaanval gegee!! (Ja, Sammy was toe al op Days, sy was 'n Candy Striper by Salem Hospital, en moes 'n indruk gemaak het, want een van die skaaphonde is na Sammy vernoem)

Ouma het haarself vreeslik in die sepies ingeleef. Sy het gehou van Days, The Bold and the Beautiful, Santa Barbra en The Young and the Restless. Dit was destyds oorgeklank in Afrikaans en was genoem Rustelose jare! Ouma wou hê oupa moes haar soen soos wat Victor Newman vir Nicky soen, maar met die oopmond soenery het Oupa se snor nie so mooi saamgewerk soos Victor sin nie!

Die kos was klaar, en ons was gebad VOOR die sepies begin het! Ouma en oupa het hulle eie "ear phones" gehad vir die tv, maar die goed was so hard, die res van ons kon ook die tv hoor deur die oor fone!

Tannie André en Jan-Karel het by ouma en oupa gekuier op hierdie dag. Hulle was daar toe dit gebeur het. Ouma het glo net een groot asem in en toe weer uit gegee, en sy was weg. Sy was die eerste person wat ek aan die dood afgestaan het. Ek het nie dood verstaan nie, en was vas oortuig sy slaap net. Ek het nie geweet mens kan so baie huil nie. Ek het myself aan die slaap gehuil op die dubbel bed in die agter kamertjie.

Die leemte wat sy in my hart gelaat het, was nog nooit weer gevul nie..

Pictures

Music